26/10/2026
Wanneer ek beesstert teen ’n goeie prys kry, koop ek dit graag. Dit is nie juis ’n goedkoop vleissnit nie, maar as jy dit reg voorberei en slim beplan, kan jy dit in ’n paar heerlike gesinsmaaltye omskep.
Wanneer ek dit nie as ’n beesstertmaaltyd voorberei nie, maar eerder vir verskillende ander maaltye wil gebruik, dan sit ek dit oornag in my prutpot. Die volgende oggend is dit so sag dat die vleis letterlik van die bene afval!
En weet julle wat? Dit is regtig nie ingewikkeld nie.
En dit is wat ek doen:
Ek laat die beesstert ontdooi en plaas dit in ’n pan met net ’n klein bietjie water. Ek draai die vetkant na onder sodat die vet kan uitbraai en die vleis daarin kan verbruin. Ek voeg dus nooit ekstra olie by nie.
Sodra die vleis mooi verbruin is, gooi ek ook so twee uie wat ek geskil en in kleiner stukkies gesny het by en braai alles gou lekker bruin. Ek geur dit net met sout en peper. Dis al!
Nadat ek die vleis en uie uit die pan gehaal het, gooi ek twee koppies gewone water in die pan en roer die lekker bruin stukkies en geure van die bodem los. Ek gooi hierdie vloeistof saam met die vleis in die prutpot.
Ek voeg dan genoeg water by om die vleis heeltemal te bedek, asook 2 Knorrox-hoenderaftreksel blokkies.
Ja, julle het reg gelees! Ek weet daar is verskillende geure, maar ek koop altyd net die hoenderblokkies en gebruik dit vir al my soorte vleis ...
Wanneer ek hierdie dis maak, begin gewoonlik tussen 21:00 en 22:00 in die aand. Ek maak die deksel toe en stel my pot op die outomatiese program, wat met hoë hitte begin en later na ’n laer hitte oorskakel.
Die volgende oggend is die vleis ongelooflik sag. Ek skep die vleis uit en laat dit ’n klein bietjie afkoel sodat ek dit kan hanteer. Die vleis is dan so sag dat ek letterlik net die been uittrek en die vleis agterbly!
Nou is daar ’n groot prutpot met die heerlikste beesstertaftreksel. Ek gooi die vloeistof deur ’n sif om die los stukkies uit te haal. Terwyl dit nog warm is, verdeel ek dit in skoon glasflesse en laat dit heeltemal afkoel voordat ek dit in die yskas of vrieskas bêre.
Wat nie op die foto wys nie, is 'n beker aftreksel wat ek heeltemal laat afkoel het en toe in 'n ysbakkie in die vrieskas sit om te vries. Sodra dit gevries is, gooi ek die aftreksel-ysies** in 'n sakkie en bere dit ook vir latere gebruik.
Hierdie aftreksel is heerlik vir sop, bredies, s***e en enige gereg wat ’n lekker diepte van geur nodig het.
Die stukkies vleis wat in die sif agterbly, gaan natuurlik terug by die res van die vleis. Ons mors mos nie lekker vleis nie!
En die beentjies? Die kinders geniet dit om die laaste stukkies vleis af te suig voordat ons dit weggooi. 🤭
EN NOU KOM DIE LEKKER DEEL: WAT MAAK EK MET AL DIE VLEIS?
Ek verdeel die gaar beesstert in kleiner porsies (genoeg vir ons gesin van vier) en vries dit. Dan het ek later ’n heerlike, voedsame basis vir verskillende gesinsmaaltye.
Hier is ’n paar idees:
🥔 Sit dit voor op kapokaartappels en voeg ekstra wortels, uie en enige ander groente by vir heerlike beesstert op kapokaartappels.
Om hierdie te doen haal ek so 'n paar van die aftreksel-ysies** uit die vrieskas en in 'n potjie maak ek nou blokkies aartappels, opgesnyde wortels en ekstra uie gaar... later meng ek hierdie gaar groente met die vleis.... en dan word dit op kapokaartappels geskep vir 'n heerlike ete.
🥧 Gebruik die vleis as ’n vulsel vir ’n pastei. Vir die pasteie sit ek sommer ekstra ertjies uit die vrieskas en klein stukkies wortels by wat ek eers gaarmaak. (onthou die aftreksel-ysies**)
🍽️ Maak ’n heerlike herderspastei deur die vleis in ’n oondbak te plaas, kapokaartappels bo-op te skep en dit in die oond te bak. Weereens rek die vleis deur enige ekstra groente van jou keuse by te voeg... Ek het al murgpampoentjies en wortels gerasper en gaargemaak in van die beesstert aftreksel en daarna bygevoeg - niemand het eers die groente regtig opgelet nie.
🍵 Maak 'n lekker dik beesvleis en groente sop. Moenie daardie fles met aftreksel in die vrieskas vergeet nie. Ek gebruik dit as basis vir heerlike sop. Voeg groente by van jou keuse en dalk 'n paar stukkies beesvleis (onthou jy my afknyp-sakkie in my vrieskas?) en jy het 'n wonderlike voedsame sop... Geniet dit met lekker vars gebakte brood.
En dit is hoe ek probeer om my geld verstandig te gebruik: koop wanneer die prys reg is, kook ’n groter hoeveelheid en verander dieselfde bestanddeel later in verskillende maaltye.
Uit hierdie twee pakke beesstert kan ek vir ons gesin ten minste drie tot vier etes maak! ❤️
PS. Wanneer ek beesstert gaarmaak waar die vleis stukke net so bedien word, doen ek dit nie op hierdie manier nie - ek sal erens in die toekoms die resep en metode daarvan met julle deel...